Groblersdal Ope

Groblersdal Ope het op Sondag 13 Februarie 2011 plaasgevind. Die weldoener, soos gewoonlik - waarsonder dit glad nie moontlik is nie - Lucas Potgieter. Dankie is nie genoeg nie maar Lucas weet hoeveel ons dit waardeer!

Die toernooi is so gewild dat daar ‘n afsnypunt was.  Meer as die helfte van die spelers het van heide en verre gekom.  Dit getuig hoe populêr die toernooi geword het.  Maar mens kry dit nie verniet nie.  Almal het gehelp om die dag ‘n groot sukses te maak.  Die spelers wat van die koue dele af kom het maar bietjie gestoei met Groblersdal se son.   
Die baan was soos gewoonlik goed versorg.  Miskien ‘n bietjie hard van die afgelope week se hitte.  Dit maak eintlik dat die baan makliker speel.  Die setperke is die beste wat hulle in ‘n baie lang tyd was.  Dis ook seker daarom dat niemand gekla het nie. 
Dit was baie lekker om te sien dat ons plaaslike spelers goed gedoen het. 
Die wenner van die Jan Jacobs wisseltrofee was die einste Jan homself.  Hy is geklimatiseer en het ‘n skitterende 2 onder baansyfer gespeel.  Tweede was ons eie Hugo Malan.  Hy het dit reggekry deur ‘n 3 onder baansyfer te speel op die tweede 18.  3 de was Devon Strydom van Witbank en 4 de was die legendariese Eddie Daniel van Ermelo.  Eddie was nie op sy skerp kantjie soos verlede week toe hy op Secunda op 13 onder baansyfer gewen het nie.  Nou moet mens darem ook onthou daar is gholfbane en gholfbane……


Beste netto vir die dag                        RT Motha (Bronkhorstspruit) 
Tweede                                                  Derick Luies (Groblersdal)
Beste oggend bruto                            RT Nyati (Greenside)            
Beste middag bruto                            Donovon de Vries (Middelburg) 
Beste oggend netto                            Whitey Liebenberg (Middelburg)
Beste middag netto                            Renee Aguinaga (Groblersdal)

Die netto ligas is aan die gang.
Die A-span van Groblersdal het tuis teen Arnot gespeel en maklik gewen. Die B-span het vroeg reeds in die jaar die prys gewen vir BES GEKLEDE sowel as BES UITGERUSTE span.  Ongelukkig pas hulle spelpeil glad nie aan by hul voorkoms nie en hulle verloor sleg op Tweefontein 7 – 1.   Ons vertroue is in hulle en dit kan net beter gaan van hier af.Die oumanne het Saterdag 12 Februarie ook sleg verloor op Middelburg maar ons glo die blou pilletjies gaan nou begin inskop.
Komende Vrydag 18 Februarie is dit ons pa en kind Almega dag.  9 Gate Scramble. Saterdag 26 Februarie is dit LJM se borgdag.  Daar gaan pragstukke opgeveil word.  Onder andere ‘n groot getekende foto deur Louis Oosthuizen.  Voorwaar ‘n versamelstuk.

Next article

Epos ons nou

* Please fill all required form field, thanks!